“Pars 2017 het ‘n tipiese plattelandese begin gehad – stadig en elegant.” So sê Bonnievale Wines wynmaker Marthinus Rademeyer in sy nuutste oes-verslag oor hierdie opwindende jaarlikse gebeurtenis.

“Kultivars soos Sauvignon blanc en Nouvelle het tot op die stadium die parsbedrywighede oorheers, Ons wil hulle teen hoër suikers pars vir voller wyne met uitgesproke vrug en goeie mondgevoel.”

Natuurlik gebeur dit nie net alles in die wingerde nie. “Wanneer jy die voorreg het om die giskelders te betree sal jy oorval word met tropiese geure. Dit sluit pynappel, grenadilla en perske in, met ligte note van geblikte ertjies en varsgesnyde gras vanaf ons Nouvelle,” sê Marthinus. “Ongelukkig is die uitstappie eksklusief, maar ons wynmakers doen hul bes om die geure vas te vang vir die Bonnievale Sauvignon Blanc 2017!”

Hy sê die Chenin wat reeds geoes is toon groot belofte. “Weereens gaan dit intense wyne wees, maar steeds onopgesmik. Daar is verder uistekende komponente vir die Riggton White-reeks.”

Toe hierdie berig geskryf is, het die spanne reggemaak om die rooikultivars en veral Pinotage te begin pars. “Ons hou duimvas dat die vrug vir ons uitstekende wyne vir 2017 gaan lewer,” sê hy.

“In hierdie stadium is ek onseker oor wanneer pars gaan klaarmaak. Ek wil liewers nie valse hoop gee nie!”

LEAVE A REPLY