Die jaarlikse Wine On The River-fees is van 14-16 Oktober gehou en was ’n reuse sukses. Bonnievale Wyne se stalletjie was weer onder die groot trekpleisters by dié gewilde geleentheid.

Wine On The River dien jaarliks as die streek se wyn-vertoonkas in ’n rustige luim op die oewer van die Breederrivier en gee besoekers die geleentheid om ’n biejtie met die wynmakers, wingerdboukundiges, plaaseienaars en bemarkers te kuier.

Heelwat lede van die Bonnievale-span het skofte by die kelder se fees-stalletjie gedoen en ons het hulle gevra vir terugvoer.

“Daar was geweldige belangstelling in ons wyn-reeks en veral in die Bonnievale Wines Natural Sweet Shiraz en Bonnievale Wines Sushi perlé-wyn,” het wynmaker Edwin Mathambo vertel.

“Ons het ook uitstekende terugvoer oor ons ongehoute Bonnievale Wines Chardonnay 2016 gekry,” voeg hy by.

Bonnievale Wyne wynmaker, Jean Aubrey, het dit beaam. “Die Sushi en Dusk bly gunstellinge, omdat hulle lekker smaak en ook laag in alkohol is.”

Wynboukundige Sakkie Bosman het opgemerk hoe gewild Bonnievale Wyne se Sauvignon Blanc, Chardonnay, Cabernet Sauvignon/Shiraz 2015 en Barrel Select Shiraz was. “Sushi is vir die meeste mense ’n verrassing omdat die wyn nie bekend is nie, maar as hulle eers geproe het, is daar geen omdraaikans nie.”

Die stalletjie het besoekers van ver ontvang, waaronder ’n vrou van KZN en ’n paartjie uit Umaruru in Namibië. Een besoeker het selfs die Maandag na afloop van die fees ’n epos gestuur om te sê: “Ek het gehou van wat ek gesien het. [Ek] het ’n paar keer deur die dag jul stalletjie besoek en die personeel was heeltyd vriendelik en professioneel. Welgedaan! Ek het ook ’n paar mense na jul stalletjie toe verwys en almal het dieselfde ondervinding gehad en [was gaande oor] jul wyne!”

LEAVE A REPLY